Ten-sion is ’n groepuitstalling saamgestel deur die Kreatiewe Juweliersware- en Metaalontwerpafdeling van die departement Visuele Kunste aan die Universiteit Stellenbosch. Die juweliersware, voorwerpe en beeldhouwerke wat uitgestal word, is geskep deur sewe nagraadse studente en die drie voltydse dosente verbonde aan die Juweliersware-afdeling.
Met dié werke lewer die deelnemende kunstenaars kommentaar op die norme van die wêreld rondom hulle. Die werke verken verskeie spanningsvelde, onder meer tussen sosio-politiek en kultureel gekonstrueerde identiteite, kreatiewe dissiplines en praktyke, en betwiste openbare ruimtes.
In haar uitstalrede vir die Then and Now-uitstalling in Londen in 2007, skryf die Britse kunsjuwelier en akademikus Caroline Broadhead: “Jewellery, more than most artefacts, raises issues of value. Value is measured by how an object fulfils a role and what it means to someone; one value often symbolises another sort of value. Rarity, exchange, sentimental or intrinsic value are all connected and overlap. Along with the high values placed on precious jewellery are parallel accounts of envy, theft and deception.”
Kunsjuweliersware bevraagteken en ondermyn dikwels die waardes wat aan tradisionele juweliersware, artefakte en “kosbare” materiale gekoppel word vanuit ’n kritiese, kontemporêre
perspektief met die doel om die kollig op die teenstrydighede en kompleksiteite wat hierdie skeppings beliggaam te laat val. Dit ondersoek die spanning en vervaag die lyne tussen persoonlik/kultureel en privaat/publiek, en verbreed só die grense van die tradisionele galeryruimte en aktiveer die liggaam as ’n beweeglike mannekyn. Kunsjuweliersware maak dus gebruik van die kulturele betekenis van juweliersware om op ’n genuanseerde en intieme wyse in gesprek te tree met verskeie sosio-politieke en kultuurkritiese diskoerse.
Ten-sion vertoon die werke van die volgende kunsjuweliers:
Willemien Bruwer
Zoë Chowney
Joani Groenewald
Ronel Jordaan
Mariambibi Khan
Lara Landsberg
Bongani Mashange
Luché Oberholzer
Carine Terreblanche
Cornelia Van Der Merwe