[/db_pb_menu]

Kalender

Besoek ons huidige uitstalling, Om Terug Te Fluit, wat strek vanaf die 2de Februarie tot die 22de April 2023.

Galery openingstye: Dinsdag tot Donderdag, 09h00 – 17h00 / Vrydag, 09h00 – 16h00 / Saterdag, 10h00 – 16h00.

Jannie se Leeskamer

Hierdie ruimte huisves Jannie Mouton se unieke boekversameling, wat nou toeganklik is vir die publiek.

Kunsgalery

In hierdie toonaangewende uitstalruimte word ʼn verskeidenheid Suid-Afrikaanse kunswerke van ouds, asook kontemporêre werke, vertoon.

OM TERUG TE FLUIT: ‘n Groepuitstalling in Samewerking met 40 Stones

ʼn Uitstalling vir Lydenstyd en Paasfees

2de Februarie – 22de April 2023

 

In 1963 fluit Albie Sachs die hooftemalied van Dvořák se Nuwe Wêreld-simfonie as ʼn vorm van kreatiewe verset uit sy tronksel van eensame afsondering. ʼn Mede-gevangene fluit terug… en die lied word ʼn vorm van kalm verset en solidariteit.

Dertig jaar later poog die Waarheids- en Versoeningskommissie om ʼn jong en ontluikende demokrasie deur middel van regstellende geregtigheid te versterk. Sedert 1995 hou die term ‘versoening’ verskillende betekenisse vir Suid-Afrikaners in – ʼn kompleksiteit wat strek van die intimiteit van alledaagse verhoudings tot die formaliteit van nasionale wetgewing. Tog kan dit die beste beskryf word as ʼn projek wat gerig is op solidariteit. ‘Versoening’ vorm die bindende tema in hierdie uitstalling vanweë die belang daarvan in die verhaal van Suid-Afrika en hoe dit in die toekoms weergalm.

ʼn Stem wat deurlopend in die Suid-Afrikaanse dialoog rondom geregtigheid en versoening weerklink, is dié van die kerk. Die profetiese stemme van aartsbiskop Desmond Tutu, Beyers Naude, Steve Biko, Albert Luthuli en Jaap du Rand klink hier. Nog ʼn onmiskenbare bemiddelaar (of fluitjieblaser) in die gesprek is die Kunste. Die teoloog en anti-apartheidsaktivis, John W. De Gruchy, beskryf dit in sy essay ‘Holy Beauty’ as volg:

[K]uns het die vermoë om sowel ons persoonlike as gedeelde bewussyn en persepsies te verander. Dit daag ons waarneming van die werklikheid uit en stel ons in staat om die goeie van die verlede te onthou, terwyl dit tegelyk nuwe beelde van transformasie in die hede vorm. Kuns prikkel die verbeelding en verwondering; dit roep ons tot stilstand en besinning, en ontsluit daardeur die moontlikheid om ons persepsie te verander en uiteindelik ons lewens. (14)

Hierdie uitstalling bring die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars (uit die verlede en hede) byeen wat worstel met die ongemaklike en moeilike tema van versoening in Suid-Afrika. Sommige werke is ernstig en gewigtig, en bring die kyker tot besinning. Ander daag persepsies uit. Die versameling van verbeeldingryke werke herinner Christene aan die hoop wat opgesluit is in die Paasverhaal, waar Christus die hoogste prys betaal het om die mens met God te versoen: die hoop vir ʼn nuwe wêreld.

De Eetkamer Restaurant

Sjef Marco Cardoso se moderne spyskaart bestaan uit ʼn kombinasie van geurige klein bordjies.
Bespreek by www.de-eetkamer.co.za

Skrywerskamer

Hierdie stimulerende ruimte bied aan skrywers die afsondering om met inspirasie te kan skep.

[/db_pb_menu][/db_pb_menu]

OOR OUDE LEESKAMER

Die Oude Leeskamer kultuur- en erfenissentrum is gesetel in ʼn historiese gebou op die hoek van Dorp- en Drostdystraat in Stellenbosch. Oor die geskiedenis heen het hierdie ruimte verskeie rolle in die Stellenbosse gemeenskap vertolk.

Sedert die totstandkoming van die gebou in 1815 het dit onder meer gedien as kantoor van die magistraat, anneks tot die Moederkerk en anneks tot die Teologiese kweekskool. Dit was ook al die tuiste van verskeie plaaslike leesklubs, en daarna van die destydse Union Debating Society. Meer onlangs was dit ʼn privaat woning, ʼn gastehuis, en is dit gebruik as die kantore van ʼn argiteksfirma.

Wat veral van belang is, is dat die Oude Leeskamer die gebou was waar die besluit geneem is rondom die daarstel van skole op die dorp. Die Universiteit Stellenbosch (US) het later uit dié besluit ontstaan.

In 2017 word die Oude Leeskamer die eiendom van die Jannie Mouton Stigting. Na ʼn merkwaardige restourasieproses is die gebou omskep in vyf spesiale ruimtes, naamlik Jannie se Leeskamer, ʼn kunsgalery, ʼn skrywerswoonstel, De Eetkamer Restaurant en die Jannie Mouton Stigting se kantore.

Die visie van die Oude Leeskamer is om ʼn toonaangewende erfenisbate te wees wat historiese waarde beskerm, maar terselfdertyd ʼn lewende ruimte is waar Suid-Afrika se unieke en diverse kuns en kultuur gevier word.

Ure

Dinsdag tot Donderdag, 09h00 – 17h00
Vrydag, 09h00 – 16h00
Saterdag, 10h00 – 16h00

Kontak

Tel: (021) 001-8829
E-pos: events@oudeleeskamer.org
Adres: Dorpstraat 182,
Stellenbosch, 7600

Reis Saam Met Ons

Facebook
Instagram