Ons heet plaaslike kunstenaar Ulriche Jantjes hartlik welkom as ons ateljeekunstenaar vir September. Tydens haar vier weke by ons sal sy die galery met haar ateljee en praktyk oorneem. Die publiek het sodoende die geleentheid om haar praktyk te sien ontvou en ’n seldsame blik te kry op die gebare, eksperimente en ritmes waardeur haar skilderye gevorm word.
Ulriche Jantjes (geb. 1997) gebruik skilderkuns en drukkuns om te besin oor erfenis en identiteit soos dit in plek gemanifesteer word. Met haar wortels in Elim, ’n Morawiese sendinggemeenskap wat in 1824 in die Overberg gestig is, trek sy blywende maar vloeiende lyne tussen hierdie omgewing en haar sin van erfenis en behoort. Sy sê: “Die landskap is alomteenwoordig in my werk. Dit tree op as ’n uitspansel wat die geskiedenisse wat voortdurend daarin ontvou, omvat en beskou”. Haar werk is dus uiters persoonlik, maar deur na sowel eksterne as verbeelde landskappe te verwys en deur haar mymerende uitbeelding in olie skep dit ook ’n indruk van die universele en amper mitiese, wat die kyker nooi om sy of haar eie plek, in die hede en die verlede, te oordink.
Ulriche is gebore en getoë in Kaapstad. Sy het ’n BA in Beeldende Kunste en ’n meestersgraad in Beeldende Kunste (cum laude) van die Michaelis Skool vir Beeldende Kunste aan die Universiteit van Kaapstad. Jantjes het al verskeie solo-uitstallings gehou, onder andere by die 2024 Investec Kunsteskou, en het aan talle groepuitstallings deelgeneem.
Teks deur Lee Helme.
