Sluit aan by Fourie Botha wanneer hy met Theo Kemp oor sy nuutste roman, Klein konings, in gesprek tree.

In die boek word twee staatsamptenare na die minister se kantoor ontbied vir ’n opdrag genaamd “Removal of monuments”. Dié twee se agtergronde is so uiteenlopend soos kan kom: Pixley is afkomstig uit die Zoeloe-adelstand, terwyl Joubert glo van sy betoorgrootmoeder se kant van generaal Piet Joubert afstam.

Die minister se opdrag is duidelik: al die apartheid- en koloniale standbeelde, simbole en monumente moet verskuif word. Pixley en Joubert reis dus deur die land om hierdie ongewenste monumente te besoek, die situasie te evalueer en ’n plan te beraam oor hoe dit gedoen kan word.

Namate hulle reis, konfronteer hulle nie net die land se geskiedenis nie, maar ook hul eie. Persoonlike geheime word onthul – en nóg meer vrae en raaisels ontstaan.

Theo Kemp was al betrokke by verskeie projekte in die kunste in sy rolle as projekbestuurder van die Woordfees, reklamekoördineerder by NB-Uitgewers, programbestuurder van die KKNK en die Vrystaat Literatuurfees, en as bestuurder van die Breytenbach Sentrum. Hy dien tans as uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting.

Kemp is die skrywer van die romans Skool (2011) en Strafjaart (2019), laasgenoemde bekroon met die Jan Rabie-Rapport-prys in 2020.

Kliek hier om jou plek te bespreek.

Taal: Afrikaans