Sluit by ons aan op Saterdag 15 Julie van 10:30 vir 11:00 vir die boekbekendstelling van Marlise Joubert se Laatnageilande. Hierdie nuwe versameling gedigte is die bekroonde digter Marlise Joubert se elfde digbundel. Met hierdie gedigte bestendig Joubert haar reputasie as gerespekteerde digter, maar eweso as ’n belangrike bydraer tot “laatpoësie” soos wat letterkundiges die subgenre van gedigte deur ’n ouer persoon beskryf. Ofskoon temas van veroudering sedert Joubert se veel bekroonde bundel, grondwater (2019) al hoe meer na vore dring, kom daar met dié nuwe versameling ook heelwat ánder kwessies ter sprake. Gedigte oor die vrou as argetipiese aardsmoeder, naas aangrypende persoonlike verse oor die vrou as huweliksmaat, moeder en ouma te midde van ’n bedreigende sosio-politieke realiteit, word hier gevind. Buiten die verse oor veroudering, uiteraard, is ’n verdere hoogtepunt die aantal gedigte oor die digkuns self deur ’n digter wat haar tans in die volle krag van haar vakmanskap bevind.
E-pos vir Clara by events@oudeleeskamer.org om jou plek te bespreek.