ʼn Uitstalling vir Lydenstyd en Paasfees
In 1963 fluit Albie Sachs die hooftemalied van Dvořák se Nuwe Wêreld-simfonie as ʼn vorm van kreatiewe verset uit sy tronksel van eensame afsondering. ʼn Mede-gevangene fluit terug… en die lied word ʼn vorm van kalm verset en solidariteit.
Dertig jaar later poog die Waarheids- en Versoeningskommissie om ʼn jong en ontluikende demokrasie deur middel van regstellende geregtigheid te versterk. Sedert 1995 hou die term ‘versoening’ verskillende betekenisse vir Suid-Afrikaners in – ʼn kompleksiteit wat strek van die intimiteit van alledaagse verhoudings tot die formaliteit van nasionale wetgewing. Tog kan dit die beste beskryf word as ʼn projek wat gerig is op solidariteit. ‘Versoening’ vorm die bindende tema in hierdie uitstalling vanweë die belang daarvan in die verhaal van Suid-Afrika en hoe dit in die toekoms weergalm.
ʼn Stem wat deurlopend in die Suid-Afrikaanse dialoog rondom geregtigheid en versoening weerklink, is dié van die kerk. Die profetiese stemme van aartsbiskop Desmond Tutu, Beyers Naude, Steve Biko, Albert Luthuli en Jaap du Rand klink hier. Nog ʼn onmiskenbare bemiddelaar (of fluitjieblaser) in die gesprek is die Kunste. Die teoloog en anti-apartheidsaktivis, John W. De Gruchy, beskryf dit in sy essay ‘Holy Beauty’ as volg:
[K]uns het die vermoë om sowel ons persoonlike as gedeelde bewussyn en persepsies te verander. Dit daag ons waarneming van die werklikheid uit en stel ons in staat om die goeie van die verlede te onthou, terwyl dit tegelyk nuwe beelde van transformasie in die hede vorm. Kuns prikkel die verbeelding en verwondering; dit roep ons tot stilstand en besinning, en ontsluit daardeur die moontlikheid om ons persepsie te verander en uiteindelik ons lewens. (14)
Hierdie uitstalling bring die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars (uit die verlede en hede) byeen wat worstel met die ongemaklike en moeilike tema van versoening in Suid-Afrika. Sommige werke is ernstig en gewigtig, en bring die kyker tot besinning. Ander daag persepsies uit. Die versameling van verbeeldingryke werke herinner Christene aan die hoop wat opgesluit is in die Paasverhaal, waar Christus die hoogste prys betaal het om die mens met God te versoen: die hoop vir ʼn nuwe wêreld.