Poësie-Aand (Donderdag 3 Augustus 2023)

Sluit Donderdag die 3de Augustus om 18h00 by ons aan vir ‘n wonderlike aand van poësie terwyl die digters van die 2022 Penseel-publikasie die verhoog betree en hul ongelooflike gedigte lees. Penseel word uitgegee deur die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands se komitee, VER[r]AS. Die bundel het ‘n lang geskiedenis in die Departement Afrikaans en Nederlands. Dit is gestig deur Fanie Olivier en Danie Botha in 1969/70 onder beskerming van ASK. Sedertdien word die bundel byna elke jaar gepubliseer. Onder dié digters en skrywers wat deur die jare hul werk in Penseel gepubliseer is, is vandag bekende figure in die Afrikaanse literêre wêreld – Zandra Bezuidenhout, Kerneels Breytenbach, Charles Fryer, Rachelle Greeff, Helena Gunter, Joan Hambidge, Daniel Hugo, André le Roux, Sonja Loots, Fanie Olivier, Alfred Schaffer, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk – om maar ‘n paar te noem.

Vandag bly Penseel ‘n studentebundel. Alle studente aan die Universiteit Stellenbosch mag hul oorspronklike Afrikaanse gedigte of kortverhale indien vir moontlike publikasie in Penseel. Die inskrywings word deur ‘n paneel beoordeel, met die beste bydraes wat gepubliseer word.


Community-verified icon