Vier Nasionale Vrouedag met kreatiwiteit, omgee en samesyn. Sluit by ons aan vir ’n spesiale werksessie oor hoe om ’n Polaroid-foto se emulsielaag te lig en oor te dra, aangebied deur Claudia van Lady and Co Studios in Somerset-Wes. Tydens hierdie werksessie sal jy leer hoe om Polaroid-foto’s in unieke, handgemaakte kunswerke te omskep.

Al wat jy nodig het, is jou selfoon – en die foto’s wat jy met behulp van die Polaroid Lab-drukker vanaf jou foon sal druk. Claudia sal jou begelei deur die proses om die brose emulsielaag bloot te lê en te verwyder en dit na papier oor te dra. Deur middel van tekstuur en kunstige manipulasie ondergaan elke foto ’n gedaanteverwisseling!

Hierdie werksessie is ’n besonderse manier om die vroue in jou lewe te vereer, of om jouself en vriende of familie met ’n onvergeetlike gedeelde ervaring te bederf. Jy sal die Oude Leeskamer met ’n nuwe kreatiewe vaardigheid verlaat, asook unieke kunswerke om te raam of met liefde te gee.

Plek is beperk, so stuur ’n e-pos aan Clara by events@oudeleeskamer.org om jou plek(ke) te bespreek.

Koste: R1200 per persoon (sluit verversings en 4 Polaroid-foto’s in).

Taal: Engels