Op 3 November verwelkom ons graag ons volgende skrywerskamergasDeidré Jantjies, by Oude Leeskamer as die Jakes Gerwel Stigting-alumnus wat vir hierdie besonderse residensie genomineer is.

Jantjies is ’n kulturele aktivis met ’n passie vir historiese verhale oor vroue. Sy is die stigter van Na Aap Productions en die skrywer van die geïllustreerde boek Stories in die wind, wat in 2022 deur Tafelberg uitgegee is. Die boek is in Afrikaans en Nama geskryf en gaan met ’n geanimeerde webreeks gepaard.

Jantjies blink op verskeie kulturele terreine uit. Sy was vervaardiger op die plaaslike film Carissa, wat vir talle filmfeeste gekies is, onder andere die 2024 Venesiese filmfees. Sy is ook die regisseur van die eersdaagse dokumentêre film Uitgesmyt, wat die storie van die gedwonge verskuiwings van inwoners van Oudtshoorn en Dysselsdorp vertel.

Tydens haar twee week lange besoek aan Oude Leeskamer sal Jantjies aan haar volgende manuskrip werk, onder leiding van haar mentor, Suzette Myburgh van die Jakes Gerwel Stigting.