Ons sien daarna uit om vir Juliette Mnqeta as ons inwonende skrywer in die Skrywerskamer van 11 tot 25 Augustus te verwelkom, in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting.
Juliette is ’n groot liefhebber van speurverhale en hoop altyd dat dit nié die huiskneg is wat dit gedoen het nie. Bedags werk sy as ’n vryskut-isiXhosa-transkribeerder en -vertaler, terwyl sy saans tyd maak om haar eie spanningsverhale te skryf. In 2022 is sy as een van vier deelnemers gekies vir die Jakes Gerwel Stigting se skryfmentorskapprogram. Haar debuutroman, If the Dead Could Talk, wat in Knysna afspeel, is in Februarie 2025 deur Kwela Boeke uitgegee.
