Fred Mouton, vir vyf dekades Die Burger se geliefde spotprenttekenaar, het hom ook op die terrein van kinderkuns begewe en gestalte gegee aan Bazoo, die vriendelike bergskilpad. Fred skep met sy eiesoortige tekenvernuf en droë humorsin, ‘n tuiste vir Bazoo en sy storiemaats, die nimlike Fynbosbuurt op Tafelberg.

Fred het destyds sonder omhaal ingestem om deel te wees van die Bazoo Projek, wat daarop gemik is om ontluikende geletterdheid op ‘n meelewende wyse aan te pak. Oor ‘n tydperk van 10 jaar stuur hy vir Bazoo en sy vriende op wonderlike avonture en sy illustrasies voer oud en jonk mee. Fred kon deur middel van sy illustrasies presies verbeeld wat die teks wou oordra. Elke illustrasie is verder afgerond met ‘n skeut humor, eie aan Fred.

Op jou wandeling deur die gallery, geniet Fred se bekende skerpsinnigheid en uitsonderlike vermoë om tot in die fynste detail kuns te skep – humoristies, maar ook soms met verontwaardigde erns.

Sluit by ons aan op Saterdag 13 Januarie 2024 om 10:30 vir die opening!