Sluit by ons aan in Jannie se Leeskamer op Donderdag 21 Mei van 18:00 tot 19:00 vir ’n spesiale vertoning van Aryan Kaganof se kreatiewe film, hypha, aangebied as deel van ons huidige uitstalling.

hypha werk met fragmente van die verlede – ou, weggegooide beeldmateriaal wat versamel, herwerk en in nuwe verband gebring word. Soos kompos word hierdie beelde nie bloot hergebruik nie; hulle word deur prosesse van verval en hernuwing omskep. Eerder as om ’n duidelike, lineêre storie te vertel, ontvou die film as ’n netwerk. Die titel verwys na swamdrade oftewel hifes – draadagtige strukture wat organiese materiaal verbind, afbreek en regenereer. Op ’n soortgelyke wyse verbind die film beelde oor tyd heen, wat toelaat dat betekenis deur assosiasie eerder as narratief ontwikkel. Die materiaal self dra sigbare spore van ouderdom: skrape, vlekke en verwringings. Dit is nie foute nie, maar deel van die taal van die film. Verval word sowel onderwerp as werkswyse. In hypha verloop tyd stamelend en in sirkelgange; ’n weerspieëling van die manier waarop geheue en verlies werk. Die verlede keer terug in fragmente, onopgelos en lewend. Op hierdie manier word hypha ’n lewende argief – een wat verval nie as ’n einde nie, maar as ’n voorwaarde vir transformasie openbaar.

’n film deur Aryan Kaganof
40 minute 31 sekondes
musiek gekomponeer deur Cara Stacey
musiek uitgevoer deur Cara Stacey, Matthijs van Dijk en Keenan Ahrends
oorspronklike super-8 mm-film geskiet deur Dave Marks en onbekende kamera
herraam deur Aryan Kaganof
geredigeer deur Aryan Kaganof

Kliek hier om jou plek te bespreek.

Taal: Engels & Afrikaans